’n Artikel in die Washington Post vertel van ’n dogter van 15 jaar wat 6,473 boodskappe op haar selfoon gestuur en ontvang het gedurende een enkele maand. Sy sê die volgende van haar voortdurende kommunikasie met haar vriende: “Ek sal sterf daarsonder.” En sy is nie alleen nie. Navorsers beweer dat tieners in die VSA wat ’n selfoon het, gemiddeld 2,200 boodskappe per maand stuur. Hierdie voortdurende digitale kommunikasie is vir my ’n besondere illustrasie van wat gebed eintlik vir elke volgeling van Christus moet wees. Dit wil voorkom of Paulus feitlik altyd in kommunikasie met God was om vir ander in te tree: “Ons [hou] ook nie op om vir julle te bid nie” (Kolossense 1:9). “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees” (Efesiërs 6:18). “Bid gedurig” (1 Tessalonisense 5:17). Maar hoe is dit werklik moontlik? Die sendeling Frank Laubach het gesê hy “skiet” gebede na persone as hy hulle gedurende die dag raakloop. In ’n sekere sin roep hy God om hulle onthalwe aan en so bly hy in voortdurende kommunikasie met die Here. Laubach was vas oortuig dat gebed die magtigste kragbron in die hele wêreld is en hy sê: “My taak is om hierdie uur in ’n konstante gesprek met God te verkeer en om te sorg dat ek in alles gereed is om sy wil te doen.” Bid sonder ophou. Miskien is dit wat Paulus aanbeveel nie so onmoontlik as wat mense dink nie.