Onlangs is vasgestel dat sekere melkprodusente in Sjina koeimelk verdun het en die industriële chemikalië, Melamine, bygevoeg het. Hierdie chemikalië is bygevoeg omdat dit die proteïene gehalte van die melk opstoot. Verskeie babatjies het ernstig siek geword en ’n paar het gesterf. Sodanige verdunning is nie iets nuuts nie. Ander lande voeg al vir baie jare Melamine by voer van diere en dit het ook daartoe gelei dat diere gevrek het. ’n Ander vorm van verdunning is wanneer mense dinge by die Woord van God byvoeg. Petrus praat van die “suiwer geestelike melk” (1 Petrus 2:2). Die woord “suiwer” beteken “onverdun” of “onbesoedeld”. Die vroeë kerk het te make gehad met diegene wat geglo het dat die besnydenis ’n vereiste vir redding was, (Handelinge 15:1). Daardie idee is afgekeur omdat dit nie volgens die Bybel is nie. Die Bybel sê uitdruklik dat redding enkel en alleen op grond van genade is. Daarom het Petrus sy broeders in die Here aangemoedig: “Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies ’n juk te lê … Nee! Ons … glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word” (Handelinge 15:10-11). Ondersoek alles baie noukeurig en maak seker dat die lering wat aan jou gegee word, volgens God se Woord is. Anders kan dit groot gevaar vir jou geestelike welsyn inhou.