In die rolprent The Princess Bride is daar ’n toneel van ’n huwelik en dan sê die predikant wat die huwelik voltrek: “Trouery … is wat ons vandag hier byeenbring.” Alhoewel hy die woorde grappenderwys geuiter het, is daar tog ’n groot waarheid in wat hy gesê het. Huwelike is inderdaad ’n instelling wat mense byeenbring. Dit is ’n heilige instelling, deur God ingestel en dit verenig een man en een vrou in ’n wonderlike eenheid met mekaar. Somtyds is dit goed om onsself te herinner aan die besondere plan vir die huwelik soos wat dit in die Bybel uiteengesit word. Die huwelik skep een nuwe familie uit twee aparte gesinne: Adam het gesê: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek … daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word” (Genesis 2:23,24). Dit voorsien ’n heilige en suiwer manier om ’n goddelike geskape begeerte te bevredig: “Weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man” (1 Kor. 7:2). Dit vorm ’n span wat mekaar wedersyds behulpsaam kan wees. “Haar man steun op haar … sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie, haar hele lewe lank (Spreuke 31:11,12). Die huwelik is God se manier om ’n man en ’n vrou te verenig om Hom te eer en die samelewing te seën. Dank God vir die huwelik en die wyse waarop dit ons in God se Naam byeenbring.