Soms wanneer ek by die winkelsentrum in die tou staan om my rekening te vereffen, kyk ek na die voorblaaie van tydskrifte wat daar uitgestal word. Dit lyk vir my as die inhoud nie oor seks of geld gaan nie, dan handel dit oor dieët, fiksheid, gesondheid en uiterlike skoonheid. Tragies om te sê, maar daar is niks vir die siel nie. Die probleem is dat mense die verkeerde tydskrifte lees – dié wat vol valshede is, wat fokus op uiterlike skoonheid, ’n mooi gesig, asof dit al is wat belangrik is. Dit kan daartoe lei dat persone hulleself met die karakters in die tydskrifte vergelyk en in depressie en wanhoop beland. ’n Aantal jare gelede het ’n vriend my vertel van ’n gesprek wat hy met ’n pragtige, selfversekerde tiener gehad het. “Jy is baie selfversekerd,” het hy aan haar gesê. “Kan jy my sê waarom?” “O ja,” het die jong dame geantwoord, “omdat ek so mooi is.” “O, dis jammer,” het my vriend opgemerk. “Waarom?” het sy verbaas gevra. “Omdat jy nie altyd mooi sal wees nie!” “Uiterlike skoonheid hou nie, ’n mooi voorkoms is nie alles nie,” is die wysheid waarvan ons in Spreuke 31 lees. Fisiese skoonheid kan so gou verdwyn; al die mens se pogings om skoonheid en jeugdigheid te behou sal beslis teleurstel. Maar daar is ’n innerlike skoonheid – ’n egte skoonheid wat ewigdurend is, en ons vind dit in die persoon wat “die Here dien” (vs. 30).