Louis B. Neumiller was bekend vir sy nederigheid, integriteit en die kwaliteit van sy produkte. As president van die Caterpillar Trekker Maatskappy vanaf 1941 tot 1954 het hy die vervaardiging van grondverskuiwende toerusting gedurende die uitdagende tye van die Tweede Wêreldoorlog, suksesvol beheer. In die boek In Their Time: The Greatest Business Leaders of the Twentieth Century, beskrywe Mayo en Nohria, Neumiller se leierskap as “sukses sonder fanfare.” Hulle sê sy grootheid is daaraan te danke dat hy homself uit sy besigheid verwyder het en toegelaat het “dat die maatskappy ’n held word en nie hyself nie.” Ons sien dieselfde nederigheid in die optrede van Johannes die Doper, die dinamiese prediker wat oor en oor bevestig het dat hy net die pad vir die Messias voorberei. Toe sy volgelinge ontsteld was omdat Jesus mense gedoop het en dat skares Hom volg, het Johannes gesê: “Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie, Ek is maar net voor Hom uit gestuur … Hy moet meer word en ek minder ’”(Joh. 3:28,30). As volgelinge van Christus is ons besig om Jesus te verheerlik, of soek ons eer vir onsself? In plaas van om teleurgesteld te wees as ons opofferinge nie raakgesien word nie, wees bly, want ons grootste taak is om Jesus te eer. Hy is die held! Om Hom te verheerlik is die merk van iemand wat waarlik groot is. –