Toe my swaer ’n sendeling in Mali in Afrika was, was hy in ’n verkeersongeluk betrokke. ’n Man het oor die pad gestap, reg voor Chuck se motorfiets in. Die motorfiets het die man getref en Chuck en sy motorfiets het vir ’n lang ent oor die pad geskuiwe. Toe Chuck later in die hospitaal bygekom het, het die dokter hom vertel dat hy “baie gelukkig” was. Chuck het geglimlag en gesê: “God is goed.” Later het hy weer oor die dag se gebeure nagedink. Die man wat hy raakgery het, het geen permanente beserings opgedoen nie en Chuck self sou ook volkome van sy beserings herstel. Maar sê nou maar een van hulle het in die ongeluk gesterf? Wat dan? Vir Chuck sou God steeds goed wees. Wanneer ’n tragedie oor ons lewe kom, wonder ons soms oor die Here se goedheid. Is God altyd goed? Ja, Hy is! Hy het nooit belowe dat slegte dinge nie oor ons pad sal kom nie, maar Hy het wel belowe dat Hy vir ons ”’n toevlug en ’n beskerming” (Psalm 46:2) sou wees. Hy het nooit belowe dat ons nie deur donker dieptes sal gaan nie, maar wat Hy wel belowe is dat Hy in daardie omstandighede by ons sal wees (Psalm 23:4). Die Here is goed – ongeag watter lyding en beproewing oor ons lewe mag kom. Selfs wanneer ons nie kan verstaan nie, kan ons nogtans saam met Habakuk uitroep: “Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder” (Habakuk 3:18).