Terwyl die koor van ’n hoërskool voorberei het om die pragtige lied van Horatio G. Spafford, Dit is wel met my siel, te sing, het ’n tiener na vore getree om die agtergrond van die lied te skets. Spafford het die lied geskrywe terwyl hy op ’n skip gereis het in die omgewing van die plek waar sy vier dogters gesterf het. Toe ek na daardie inleiding geluister het en ook die woorde wat deur die tieners gesing is, het my emosies my skielik oorweldig. “Die plek waar sy vier dogters gesterf het,” was harde woorde, en tog het Spafford se woorde van geloof my diep getref. Waar ons een dogter verloor het, was dit vir my ondenkbaar om te dink dat jy vier dogters kon afstaan! Hoe kon Spafford sê dat dit wel is met sy siel? Dan hoor ek die woorde: Wanneer vrede soos ’n stroom my weg bepaal, en onthou meteens waar vrede gevind word. Paulus sê in Filippense 4 dat dit by God gevind word as ons ons gebede aan Hom bekendmaak (vs. 6). Deur gelowige gebed kan ons ons laste voor die Here neerlê en ons hartseer hanteer. Ons kan die “vrede van God” deelagtig word (vs. 7), ’n bonatuurlike, hemelse kalmte. Hierdie vrede “gaan alle verstand te bowe” ons kan dit nie verklaar nie, maar dit is ’n werklikheid, ’n wag wat as’t ware ons siel bewaak, ons beskerm en ons help sodat ons, ongeag enige omstandigheid en pyn nogtans kan fluister: “Dit is wel met my siel.”