Na die Tweede Wêreldoorlog het Richard Easterlin die gevolge van die na-oorlogse ekonomiese voorspoed in Japan ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat finansiële groei en geld nie altyd geluk bring nie. Betsey Stevenson en Justin Wolfers daarenteen het ondersoeke in 100 nasies ingestel en bevind dat lewensgeluk en tevredenheid die hoogste is in lande waar geld volop is. Wie van hulle is dan reg? Kom ons kyk wat Prediker hieroor sê? Hy behoort te weet, want hy was ’n baie ryk man (Prediker 2:8). Hy het die vermoë gehad om alles te probeer – en hy het ook! Hy het homself aan plesier oorgegee (Prediker 2: 1-3), hy het groot projekte aangepak (vs. 4-8), onthale gehou (vs. 8) en hard gewerk (vs. 10,11). En wat was sy gevolgtrekking? Dit is “’n gejaag na wind” (Prediker 2:11). Blywende tevredenheid en geluk kom nie van besittings, ’n groot bankrekening en materiële rykdom nie. Onlangse gebeure het aangetoon dat hierdie dinge sommer baie skielik, byna oornag, waarde kan verloor. Om ware vreugde en vrede te vind het ons Iemand nodig, Iemand wat nie van “onder die son” is nie. En dit is ons Verlosser – Jesus Christus die Here. Die liedereskrywer Floyd Hawkins skryf: “Ek het die weg na vreugde gevind. Ek het verlossing van trane gekry … toe ek my kosbare Here Jesus gevind het.” Net Hy alleen kan “volkome blydskap” gee (Johannes 15:11).