Een van die moeilikste ondervindinge wat ek as pastoor gehad het, was toe ek aan ’n vrou moes gaan vertel dat haar man, haar seun en haar skoonpa verdrink het toe die bootjie waarop hulle gevaar het, gesink het. Ek het geweet die nuus sou vir haar ’n verpletterende slag wees. In die dae na die ongeluk, was ek verbaas om te sien dat sy en haar gesin met besondere geloof en vertroue reageer het. Natuurlik was daar ’n diepe gebrokenheid, twyfel en verwarring. Maar toe niks anders vir hulle sin gemaak het nie, het hulle steeds aan Jesus vasgehou. Eerder as om van Hom af weg te draai tydens tye van beproewing, het hulle juis hulle toevlug tot Hom geneem. Hy was vir hulle die bron van hoop en krag. Dit laat my dink aan die dissipels se reaksie op Jesus se woorde. Nadat ’n paar ander “omgedraai [het] huis toe en nie meer saam met Hom gegaan [het] nie” het Jesus aan die twaalf dissipels gevra: “Wil julle nie ook weggaan nie?” (Johannes 6:66,67). Petrus het dadelik met oortuiging geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee” (Johannes 6:68). Wat ook al vandag oor jou pad mag kom, vind bemoediging in Petrus se woorde en deur die optrede van ’n gesin wat so diep bedroef is. Solank as wat jy in die regte rigting hardloop – na Jesus toe – sal jy die genade en krag vind om jou kruis te dra, hoe moeilik dit ook al mag wees.