Baie jare gelede het ek ook in die Weermag diens gedoen. Ek is nog altyd dankbaar dat ek my land so kon dien. Maar ek moet erken die tyd wat ek die beste onthou en die meeste geniet het, was toe ek ’n “korttermyner” was. “Korttermyners” is soldate wat nog slegs ’n paar weke oor het voordat hulle uit die mag ontslaan word. Hulle spandeer die laaste dae deur die kommissaris en die kwartiermeester te besoek en alle onafgehandelde sake te finaliseer en toerusting terug te besorg. Ek kan onthou hoe gelukkig ek in daardie tyd was. Ek was sorgvry en het my takies blymoedig uitgevoer, en min bekommernisse gehad, want ek het geweet – ek gaan binnekort huis toe. Nou is ek ’n “oue van dae” en weer is ek ’n “korttermyner.” Dit sal nie meer te lank wees nie en dan kry ek my ontslag hier op aarde. Weer eens is ek vol moed en lighartig van gees, want ek weet binnekort gaan ek huis toe. Dis die lewensuitkyk wat Jesus en sy dissipels “hoop” genoem het. “Ek het my hoop op God gestel” (Handelinge 24:15) en “dié hoop beskaam nie” (Romeine 5:5). Hoop, in Bybelse terme, beteken sekerheid en vertroue. Dis vas en onwankelbaar en die onoorwinlike geloof dat ons uit die dood opgewek sal word, net soos Jesus, en dat ons in die ewige tuiste deur Hom verwelkom sal word. Dis genoeg om hierdie dag vreugde in die hart te gee en sorgvryheid in ons wandel