Ek het nog altyd probleme gehad om my motor te parkeer. Toe ek my lisensie gekry het, het die instrukteur nie juis hoë prioriteit aan parkering gegee nie en gevolglik het ek nie geleer hoe om agteruit in ’n parkeerplek in te ry nie tot veel later. Hy het ook nie aandag aan paralelle parkering gegee nie, en dus is ek baie versigtig tensy daar genoeg plek vir twee motors is. Ek het ook probleme gevind met ’n stelling wat ’n jong Christen gemaak het: “God kan nie ’n geparkeerde motor bestuur nie.” Ek het gedink dit beteken dat ek in beweging moet kom vir God en dat Hy my dan in die regte rigting sou stuur. Dis ’n interessante gedagte, maar dis nie altyd die manier waarop God werk nie. Daar kom tye dat Hy wil hê ons moet op ’n plek “geparkeer bly”. By tye, toe die Israeliete in die woestyn was, het God hulle op een plek laat bly. Hy het hulle deur ’n wolk gelei en wanneer die wolk op een plek gebly het “het die Israeliete … nie weggetrek nie” (Num. 19:9). Om te wag is nie altyd maklik nie, maar soms wil die Here hê ons moet bly waar ons is. Die Psalmdigter herinner ons: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! ” (Psalm 27:14). Miskien voel jy dat jy vasgeval het en niks vir God doen nie. Maar hou jou hart oop en ontvanklik vir Hom. Dan sal jy gereed wees om ratte te verwissel wanneer Hy sê: “Hier is die weg. Kom ons gaan.”