Die normale wyse waarop die Here gewoonlik voorsien, is in en deur die skepping self en nie ten spyte daarvan nie. Om hierdie rede is dit soms moeilik om alle antwoorde op gebed met sekerheid vas te stel. “Slegs die geloof bevestig die skakel,” skryf C. S. Lewis. “Proefondervindelik kan dit nie bewys word nie.” Ons glo dus dat ’n gebed verhoor en beantwoord is op grond van ons geloof en nie omdat dit wetenskaplik bewys kan word nie. Die meeste van die maniere waarop ons met God kontak maak – die natuur, die Bybel, Nagmaal, eredienste, ander mense – dit alles omvat dinge wat ons kan aanraak. God Self egter beweeg in die area van die gees. Gebed reflekteer daardie verskil tussen ons en God. Alhoewel ons soms die Here vra om direk in te gryp, moet dit ons nie verbaas as Hy dikwels verkies om op meer indirekte maniere te antwoord nie. ’n Alkoholis bid: “Here, help my om vandag nie te drink nie.” Die antwoord op daardie gebed sal waarskynlik van binne kom – die persoon wat homself dissiplineer en ’n uitroep om die hulp aan ’n goeie vriend rig eerder as om te verwag dat ’n bonatuurlike wonder gebeur en al die drank uit die drankkabinet verdwyn. Óf die Here nou op ’n bonatuurlike wyse ingryp en óf Hy ons die krag gee om Hom te gehoorsaam, moet ons op sy karakter vertrou. Daar is ’n besondere vennootskap tussen ons en Hom, intiem en ineengeskakel.