Ek hou gereeld die aandelebeurs en die mark dop en reflekteer dan oor die effek wat vrees en gierigheid op die mens uitoefen. Gedurende 1980 het ’n karakter in ’n rolprent die volgende filosofie gehuldig: “Gierigheid, by gebrek aan ’n beter woord, is goed. Dis reg! Gierigheid werk! … Gierigheid sal die VSA red!” Watter dwase denke! Ek dink onwillekeurig aan daardie geleentheid toe ’n man Jesus gevra het om hom te help dat sy broer die erfporsie met hom deel. Jesus het sy versoek geweier, maar voortgegaan om iets beters vir die man te doen. Hy het op die motief vir die man se versoek gewys en gewaarsku op die gevolge wat dit inhou: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15). Toe het Jesus die gelykenis vertel van die man wat die reuse oes ingesamel het en hoe hy begin beplan het om sy rykdom te geniet. God het egter vir hom gesê:”’Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie” (Lukas 12:20,21). Die probleem met gierigheid is dat al ons besittings tog maar eendag tot niet gaan. Ons sterf almal en kan niks saamneem nie! Dis beter om vir jou skatte in die hemel te vergader en “ryk by God” te wees.