Indien ’n kompetisie uitgeskryf sou word vir die mees populêre deug, sou “vinnig” seker meer stemme as “beste” kry. Baie terreine van die lewe skyn ’n obsessie oor spoed te hê. Hierdie gejaag na spoed is “vinnig” besig om na niks te lei. Carl Honoré skryf in sy boek In Praise of Slowness: “Die tyd het aangebreek dat ons hierdie obsessie om alles vinniger te doen, heroorweeg. Spoed is beslis nie altyd die beste opsie nie.” Volgens die Bybel is hy reg. Petrus waarsku ons dat in die laaste dae mense sou begin twyfel omdat die Here so stadig is om sy belofte van die wederkoms in vervulling te laat gaan. Petrus wys egter daarop dat hierdie oënskynlike “stadigheid” ’n goeie ding is. God is as ’t ware besig om sy goedheid te demonstreer deur aan die mens tyd te gee om tot bekering te kom (2 Petrus 3:9). Hy is ook getrou aan sy geaardheid naamlik dat Hy geduldig is en ons nog kanse bied (Eksodus 34:6). Ons moet stadig wees om kwaad te word – en waak oor ons woorde. Jakobus sê: “Elke mens moet … nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie” (Jakobus1:19). Hy sê spoed is vir ons ore gereserveer. Ons moet gou wees om te luister. Dink maar hoeveel probleme vermy kon word as ons eers nadink en luister voordat ons reageer. In ons daaglikse gejaag om ons doelstellings te bereik, laat ons meer bereid wees om te luister en ons tonge beter beheer.