Toe ek ’n kind was het ek geleer hoe om korrek op te tree omdat volwassenes my goeie optrede beloon het, maar my slegte gedrag gestraf het. Dit het nogal goed gewerk omdat die beloning of straf gou op die optrede gevolg het en sodoende is die verband tussen optrede en gevolge duidelik ingeprent. Toe ek egter volwasse geword het, het die lewe meer ingewikkeld geword en die gevolge van my dade het nie altyd onmiddellik gevolg nie. Gevolglik het ek begin dink my optrede maak nie regtig vir God saak nie. Iets soortgelyks het met die kinders van Israel gebeur. Toe hulle ongehoorsaam aan God was en straf nie onmiddellik gevolg het nie, het hulle gesê: “Die Here is nie meer in die land nie, die Here sien nie” (Esegiël 9:9). Daardeur het hulle te kenne gegee dat God nie omgee vir hulle swak optrede nie. Maar hulle was verkeerd. Hy was maar net geduldig met hulle. Eindelik het God moeg geword vir hulle sonde en afvalligheid en gesê: “Niks van wat Ek gesê het, sal meer uitgestel word nie. Wat Ek gesê het, sal nou gebeur” (Esegiël 12:28). Wanneer God dissipline uitstel en nie onmiddellik straf nie is dit nie omdat Hy nie omgee nie. Inteendeel, dit is vanweë sy geaardheid. Hy is genadig en word nie gou kwaad nie. Sommige persone dink dit beteken hulle kan maar aanhou sondig, maar God gee eerder ruimte en tyd vir bekering (Romeine 2:4).