Miskien weet jy van die lys van die sewe dodelike sondes wat gedurende die sesde eeu opgestel is, naamlik: wellus; vraatsug, gierigheid, luiheid, wraaksug, jaloesie en hoogmoed. Miskien weet jy nie dat daar in die oorspronklike lys, wat in die vierde eeu opgestel is, nog ’n sonde ingesluit was nie, naamlik droefheid. Oor die jare is droefheid egter van die lys verwyder Daar is diegene wat met ’n vrolike lewensingesteldheid geseën is. Hulle lyk altyd so gelukkig. Hulle glimlag gedurig, byna asof hulle ’n sekere tandepasta adverteer. Maar daar is ander wat kronies hartseer en depressief is. Hulle kla voortdurend oor die probleme wat oor hulle pad kom. En wie van ons kan ontken dat probleme ontmoedigend kan wees? Alhoewel ons saamstem dat nie alle mense ’n vrolike ingesteldheid het nie, moet ons nogtans onthou dat blydskap een van die gawes is wat God aan sy kinders belowe. Daarom moet ons stry teen die neiging om moedeloos en depressief te wees. Hartseer mag nie ons emosionele lewe oorheers nie. Jesus het die nag toe Judas hom verraai het, ’n belofte aan sy dissipels gegee: “Niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie” (Johannes 16:22). Onthou dat vreugde die vrug van die Heilige Gees is (Galasiërs 5:22). Kom ons vra die Here om ons te help om by ons hartseer verby te kyk en ons oë op die heerlike toekoms te vestig (Hebreërs 12:2).