I s dit vir jou verbasend dat probleme ’n deel van die lewe is? Miskien nie. Ons ken almal probleme – slegte gesondheid, ’n leë bankrekening, liefde wat teleurstel, hartseer, om jou werk te verloor, ja, en die lys word steeds langer. Daarom behoort dit ons nie te verbaas dat God toelaat dat addisionele beproewings ons tref nie – om bespot en verag te word omdat ons Jesus volg (1 Petrus 4:12). Maar probleme kan ’n goeie, positiewe doel dien; dit openbaar aan ons, die gewone mens en Christene, hoe dit met ons siel gesteld is. Ek het nog nooit ’n gholfbaan gesien wat nie hindernisse het nie. Hulle is deel van die spel. Gholfers sê die gholfbane met die meeste hindernisse bied die meeste uitdagings en hulle sal ver ry om hulle bekwaamheid te toets op ’n baan wat baie uitdagings bied. Oliver Wendell Holmes het gesê: “Indien ek ’n formule gehad het om by alle struikelblokke verby te kom, sou ek dit nie gebruik en nie vir ander daarvan vertel nie. Dit sal niemand bevoordeel as ek dit sou doen nie. Probleme stel ’n mens in staat om uitdagings te kan hanteer … beskou dit as ’n vriend, want jy sal dit dikwels teëkom en dis beter as jy dit aanvaar en daarmee rekening hou.” Laat ons dit dus nie as iets vreemds beskou wanneer ons met allerhande probleme en strikvrae te kampe kry nie. Die beste manier om probleme te hanteer is om jou “lewe … aan die getroue Skepper [toe te vertrou]” (1 Petrus 4:19).