Ek en ’n sendeling is genooi om
middagete saam met David te geniet.
David was na aan tagtig, iemand wat
sendingwerk van harte ondersteun en
befonds het. Hy het nooit die betrokke
sendeling se werksterrein besoek nie, maar
toe hy ’n dankgebed vir die ete gedoen
het, het hy met groot vrymoedigheid vir
die mense, situasies en werksaamhede
daar gebid. Aangesien hy gereeld vir hulle
gebid het, kon hy spesifiek in sy gebede
wees. Hy het inderdaad ’n perspektief op
sendingwerk gehad wat veel breër was as
net die werk in sy eie land, Singapoer.
Ons Here het ons beveel om ’n
wêreldwye perspektief ten opsigte van
sending te hê. Hy het gesê: “Gaan dan na
al die nasies toe en maak die mense my
dissipels … en leer hulle om alles te onderhou
wat Ek julle beveel het” (Matteus
28:19,20). Hy het nie bedoel dat almal van
ons die hele wêreld moes besoek om sy
opdrag uit te voer nie. Nee, ons mag miskien nie die vermoë hê
om baie lande te besoek nie, maar ons kan betrokke raak by die
werk wat in die wêreld gedoen word, sonder om ons tuisdorp te
verlaat.
Miskien vra jy: Hoe? Is daar ’n internasionale student wat naby
jou woon? Miskien ’n familie uit ’n ander land wat sukkel om aan
te pas? Of ’n eensame mens by wie jy betrokke kan raak. Deur uit
te reik en Jesus se liefde met hulle te deel, is jou manier om oseane
te kruis en jou perspektief te verbreed.