Miskien het jy die TV-advertensie gesien, waarin ’n persoon die deur beantwoord en iemand vind wat ’n tjek vir ’n
enorme bedrag geld oorhandig. Dan begin die verbaasde ontvanger skree, dans en spring. “Ek het gewen! Ek is ryk! Ek kan dit nie glo nie! My probleme is opgelos!” Om skielik ryk te word kan ’n groot emosionele reaksie ontlok. In Psalm 119, vind ons dié merkwaardige verklaring: “Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld” (vs. 14). Wat ’n vergelyking! Gehoorsaamheid aan God se instruksies kan net so opwindend wees soos die ontvangs van ’n fortuin! Hierdie refrein word in vers 16 herhaal toe die
psalmis dankbare vreugde uitspreek oor die Here se bevele. “Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet
ek nie.” En as ons nie so voel nie? Hoe kan ons verlustiging in God se voorskrifte net so opwindend soos die ontvangs van ’n fortuin wees? Dit alles begin met dankbaarheid, wat beide ’n houding en ’n keuse is. Ons gee aandag aan dit wat ons waardeer, daardeur begin ons ons dankbaarheid vir die gawes van God, wat ons siele
voed, uit te spreek. Ons vra Hom om ons oë oop te maak om die skatkamer van wysheid, kennis en vrede te sien wat Hy aan ons, in Sy Woord, gegee het.Namate ons liefde daagliks vir Jesus groei, word ons skatryk!