Daar bestaan ’n storie wat in vyf-en-sewentig v.C. plaasgevind het. ’n Jong Romeinse edelman met die naam Julius Caesar is deur seerowers ontvoer en vir ’n losprys aangehou. Toe die seerowers twintig talente silwer in losprys (vandag ongeveer $600,000) geëis het, het Julius Caesar gelag en gesê hulle het natuurlik géén idee wie hy is nie. Hy dring daarop aan dat hulle die losprys na vyftig talente verhoog! Hoekom? Omdat hy vas geglo het dat hy veel meer as twintig talente werd is. Wat ’n verskil sien ons tussen die arrogante maat van Julius Caesar se eie waardebepaling en die waarde wat God op elkeen van ons plaas. Ons waarde word nie aan die hand van geldwaarde gemeet nie, maar aan wat ons hemelse Vader vir ons gedoen het. Watter losprys het God betaal om ons te red? Deur die dood van Sy enigste Seun aan die kruis het die Vader die prys vir ons redding van ons sonde, betaal. “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is” (1 PETRUS 1:18-19). God het ons so lief dat Hy Sy seun opgeoffer om aan die kruis
te sterf en op te staan uit die dood om ons te red. Dit is wat jy vir Hom werd is.