Onafgehandelde kwessies by die werk en die huis het Matt laat besluit om ’n ent te gaan stap. Die lente-aandlug het gewink. Namate die oneindige lug van blou na swart verdiep het, het ’n digte mis stadig oor die vlei getuimel. Sterre het begin glinster en dié het die opkoms van die volmaan, in die ooste, aangekondig. Dié oomblik was vir Matt diep geestelik. Hy is daar, het hy gedink. God is daar, en dít behoort aan Hom. Sommige mense kyk na die naghemel en sien net die natuur. Ander sien ’n god so afsydig en koud soos Jupiter. Maar, dieselfde God wie se “troon bokant die hemelkoepel” is, laat “die hemelse leër uittrek in hulle volle getal, dit is Hy wat hulle elkeen
gemaak het” (JES. 40:22, 26). Hy ken Sy skepping intiem. Dit is hierdie persoonlike God wat Sy mense vra: “Waarom kla jy, Israel: ‘Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby’?” God hunker na hulle en herinner hulle aan die wysheid om na Hom te soek. “Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? … Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie” (vs. 27-29). Ons kan maklik versoek word om God te vergeet. Ons probleme sal nie met ’n aandwandeling verdwyn nie, maar ons kan berus en verseker wees dat God altyd na Sy goeie bedoelings toe werk. “Ek is hier,” sê Hy. “Ek het jou.”