’n Groot teken by die Texas A & M Universiteit se sokkerstadion sê “TUISTE VAN DIE 12DE MAN.” Al word elke span elf spelers op die veld toegelaat, is die 12de Man die teenwoordigheid van duisende A & M studente wat gedurende die hele wedstryd staande bly om hul span aan te spoor. Dié tradisie spruit voort uit 1922 toe die afrigter ’n student van die paviljoen geroep het om gereed te maak om ’n beseerde speler te vervang. Hoewel hy nooit die spel gespeel nie, was sy gewillige teenwoordigheid, op die kantlyn, bemoedigend vir die span. Hebreërs 11 beskryf helde van die geloof wat groot beproewinge in die gesig gestaar en tog aan God lojaal gebly het. Hoofstuk 12 begin, “Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop” (vs. 1). Ons is nie alleen op ons reis van geloof nie. Die groot heiliges en gewone mense wat getrou was aan die Here, moedig ons aan deur hulle voorbeeld en ook deur hul teenwoordigheid in die hemel. Hulle is ’n geestelike 12de Man wat saam met ons staan,terwyl ons nog op die veld is. Terwyl ons ons oë op Jesus hou, “die Begin en Voleinder vandie geloof” (12:2), word ons deur almal, wat Hom gevolg het, aangespoor.