Meeste van ons hoop op ’n goeie regering. Ons stem, dien, en lug ons mening oor sake wat ons pla. Maar politieke
oplossings bly magteloos om die toestand van ons harte te verander. Baie van Jesus se volgelinge het ’n Messias verwag wat ’n kragtige politieke teëwerking op Rome en sy onderdrukkers sou bring. Petrus was geen
uitsondering nie. Toe die Romeinse soldate Christus wou arresteer het hy sy swaard getrek en die slaaf se oor afgekap. Jesus het hom gekeer en gesê: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?” (JOH. 18:11). Later sou Jesus vir Pilatus sê, “My koninkryk is nie van hierdie
wêreld nie. As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie” (vs. 36). Die Here se selfbeheersing op daardie oomblik verstom ons as ons aan die omvang van Sy missie dink. Op ’n dag, sal Hy die krygsmag van die hemel in ’n geveg lei. Johannes skryf: “Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog” (OP. 19:11). Terwyl Hy die beproewing van Sy inhegtenisneming en kruisiging moes verduur, het Jesus Sy Vader se wil in gedagte gehou. Met die aanvaarding van Sy dood het Hy ’n reeks gebeurtenisse, wat harte verander, in werking gestel. En in dié proses het ons Kragtige Veroweraar die dood self oorwin.