Dit is nie ongewoon dat diensterekeninge soms verrassend hoog is nie. Kieran Healy het egter ’n waterrekening ontvang wat ’n mens se hart sal laat staan – ’n bedrag van R1 193 910 200,00! Omdat hy seker was dat hy nie die vorige maand soveel water gebruik het nie, het hy skertsend gevra of hy die rekening in paaiemente kon afbetaal.

’n Skuldlas van R1 193 910 200,00 kan oorweldigend wees, maar dit vervaag in teenstelling met die ware – en onberekenbare – las wat ons sonde ons dwing om te dra. Om daardie las te probeer dra, asook die gevolge van ons eie sondes, laat ons op die lange duur uitgeput en deurtrek van skuldgevoelens en skaamte. Die waarheid is dat ons nie in staat is om hierdie las te dra nie.

Dit was ook nooit die bedoeling nie. Soos Petrus die gelowiges herinner het, kon slegs Jesus, die sondelose Seun van God, die swaar las van ons sonde en die gewigtige gevolge daarvan dra (1 Petrus 2:24). In Sy dood aan die kruis het Jesus al ons sondes op Homself geneem, dit in Sy liggaam gedra, en Sy vergifnis vir ons aangebied. Omdat Hy óns las gedra het, hoef ons nie die straf wat ons verdien, te verduur nie.

In plaas daarvan om in angs en met skuldgevoelens te lewe – “die oorgeërfde sinlose bestaan” (1:18) – kan ons ’n nuwe lewe van liefde en vryheid leef  (vv. 22–23).