Onweer het gedreig en ’n boodskap op my selfoon het gewaarsku oor moontlike kitsvloede. Daar was ’n ongewone aantal motors in ons buurt omdat ouers en ander mense die kinders by die bushalte kom haal het. Teen die tyd wat die bus daar aangekom het, het dit al begin reën. Dis toe dat ek die vrou sien wat ’n sambreel uit haar motor se kattebak haal, na ’n dogtertjie stap en haar teen die reën beskerm tot by die motor. Dié pragtige hedendaagse voorbeeld van ’n ouer se beskermende sorg het my herinner aan ons hemelse Vader se sorg.

Die profeet Jesaja het gewaarsku oor straf op ongehoorsaamheid, waarna ’n beter toekoms vir God se mense aanbreek (Jes. 40:1–8). Die hemelse boodskapper op die berg (vs. 9) het die Israeliete van God se magtige teenwoordigheid en teer versorging verseker. Die goeie nuus van toe, en tans, is dat geen angstige hart, danksy God se krag en heerskappy, bang hoef te wees nie (vv. 9–10). Die aankondiging het ook van die Here se beskerming vertel – soos dié van herders: lammers sal veilig wees in Sy arms en Hy sal vir die lammerooie sorg (vs. 11).

In ’n wêreld vol moeilike omstandighede, dwing sulke beelde van veiligheid en omgee ons om met vertroue na die Here te kyk. Elkeen wat Hom met sy hele hart vertrou, vind sekuriteit en nuwe krag in Hom (vs. 31).