Ons kleinkinders het verruk die bleskoparend wat gered is van naderby bekyk en selfs aan hom geraak. Die vrywilliger by die dieretuin het uitgewei oor die kragtige voël op haar arm en ek was verbaas om te hoor dat hierdie mannetjie ’n vlerkspan het van 2 m, hoewel hy weens sy hol gebeentes slegs 3,6 kg geweeg het.

Dit het my herinner aan die majestueuse arend wat ek bokant die meer sien sweef het, gereed om af te duik en sy prooi in sy pote vas te gryp. In my geestesoog het ek ’n ander voël gesien – die beweginglose bloureier met sy speekbeentjies langs die dam – reg om sy lang snawel blitsvinnig die water in te skiet. Dit was maar twee van die ongeveer 10 000 voëlspesies wat ons gedagtes op ons Skepper kan rig.

In die boek Job soek sy vriende redes vir sy lyding en vra: “Kan jy begryp wie God werklik is?” (vgl. 11:5–9). Job antwoord Sofar: “Miskien moet jy die diere vra om jou te leer, die voëls daarbo om jou te vertel” (12:7). Diere getuig van die waarheid dat God Sy skepping gevorm het, daarvoor sorg en dit beheer: “Hy het al wat lewe, in sy mag, die asem van elke mens” (vs. 10).

Aangesien God vir voëls sorg (Matteus 6:26; 10:29), kan ons vas glo dat Hy ons liefhet en vir ons sorg – selfs wanneer ons omstandighede duister lyk. Kyk om jou en leer van Hom.