“Ek kan dit net nie doen nie,” het die verslae student gekla toe hy die haas onmoontlike vraestel bekyk. Hy het die onderwyser se hulp benodig.

Ons mag dalk dieselfde wanhoop beleef wanneer ons Jesus se bergrede lees. “Julle moet julle vyande liefhê” (Mat. 5:44). Kwaad is so sleg soos moord (vs. 22). Begeerte is dieselfde as egbreek (vs. 28). Ons dink ons kan aan hierdie standaarde voldoen. Maar dan lees ons verder: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is” (vs. 48).

Oswald Chambers het gesê: “Die Bergrede skep wanhoop.” Hy het dit as goed beskou, want dan is ons gewillig om as behoeftiges na Jesus te gaan en van Hom te ontvang.

God werk nie altyd op ingewing nie. Onbevoegdes wat dit besef en hulp vra, ontvang God se genade daartoe. Paulus sê: “Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes … onder julle nie. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam” (1 Kor. 1:26–27).

In God se wysheid is die Onderwyser ons Redder. Wanneer ons in geloof na Hom toe gaan, geniet ons Sy “vryspraak, die heiliging en die verlossing” (vs. 30), asook die genade en krag om vir Hom te lewe. Dit is hoekom Hy sê: “Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Mat. 5:3).