Sonder ’n goeie rekord van skuldvereffening is geldleners huiwerig om finansiële risiko’s te neem by die toestaan van lenings wanneer ’n persoon ’n huis of motor wil aankoop. Sonder so ’n rekord is die aansoeker se belofte om dit wat hy leen terug te betaal, onvoldoende. Die voorgenome lener versoek dan iemand wat wel ’n goeie rekord van skuldvereffening het om die aansoek te mede-onderteken. Die mede-ondertekenaar se belofte verseker die betydse terugbetaling van die lening.

Wanneer iemand ’n belofte aan ons maak – hetsy vir finansiële, materiële of ander redes – verwag ons dat die persoon die belofte sal nakom. So wil ons ook graag weet dat God Sy beloftes sal nakom. Toe hy Abraham belowe het dat Hy hom met ’n baie groot nageslag sal seën (Heb. 6:14; sien ook Gen. 22:17), het Abraham God op Sy Woord geneem. As die Skepper van alles wat bestaan, is daar niemand groter as Hy nie; slegs God kan sy eie belofte waarborg.

Abraham moes wag vir die geboorte van sy seun (Heb. 6:15) en het nooit die groei en ontelbaarheid van sy nakomelinge gesien nie. Maar God het bewys dat Hy getrou is in Sy belofte. Wanneer Hy belowe dat Hy altyd met ons sal wees (13:5) om ons veilig te bewaar (Joh. 10:29) en ons te bemoedig (2 Kor. 1:3–4), kan ons Hom vertrou om Sy Woord gestand te doen.