Eendag terwyl ek met ’n transaksie by die bank besig was, het ek aan die bankteller gevra of die motor op die foto op sy ruit, ’n Shelby Cobra toermotor, sy motor is. “Nee,” het hy geantwoord, “Dit is my begeerte, die rede hoekom ek elke oggend opstaan om werk toe te gaan.”

Ek verstaan hierdie jongman se begeerte. ’n Vriend van my was die eienaar van ’n Cobra wat ek by geleentheid bestuur het! Maar dit is nie die moeite werd om vir ’n Cobra of vir enigiets anders in hierdie wêreld te leef nie. Diegene wat hulle vertroue op aardse goed plaas en nie op God nie, sal, volgens die psalmdigter, “struikel en val” (Psalm 20:8).

Dit is omdat ons vir God gemaak is en vir geen ander rede nie – ’n waarheid waarvan ons in ons daaglikse handelinge kan getuig: ons koop elke dag ditjies en datjies want ons dink dit sal ons gelukkig maak, maar soos ’n kind wat ’n dosyn en meer geskenke ontvang, vra ons onsself af: “Is dit al?” Daar kort altyd iets.

Niks wat die wêreld ons bied – selfs van die beste – kan ons ten volle tevrede stel nie. Ons ondervind ’n mate van plesier daaruit maar ons blydskap is van korte duur (1 Johannes 2:17). Inteendeel, C. S. Lewis het dit benadruk toe hy gesê het: “God kan buiten Homself geen ander geluk en vrede aan ons gee nie. Daar bestaan nie so-iets nie.”