Ek was besig om vir my terugtog huistoe in te pak toe my moeder ’n geskenk aan my oorhandig – een van haar ringe wat ek lank reeds bewonder het. “Waarvoor is dit?” het ek gevra. Sy het geantwoord: “Ek dink jy moet dit nou reeds geniet. Hoekom wag totdat ek sterf? Dit pas my buitendien nie meer nie.” Ek het geglimlag en die onverwagte vroeë nalatenskap met vreugde aanvaar.

My moeder het ’n materiële geskenk aan my gegee, maar Jesus het belowe dat Sy Vader aan hulle wat dit vra, die Heilige Gees sal gee (Lukas 11:13). As ouers wat in sonde lewe noodsaaklikhede (soos vis en eiers) aan hulle kinders kan voorsien, hoeveel te meer sal ons Hemelse Vader aan Sy kinders gee. Deur die gawe van die Heilige Gees (Johannes 16:13), kan ons hoop, liefde, geluk en vrede in moeilike tye ondervind – en ons kan hierdie gawes met ander deel.

Terwyl ons opgegroei het kon ons dalk ouers gehad het vir wie dit nie altyd moontlik was om vir ons te sorg of lief te hê nie. Aan die ander kant kon ons dalk ouers gehad het wat ons met opofferende liefde oorlaai het. Miskien was ons ervarings iewers tussenin. Ongeag ons ervarings met ons aardse ouers, kan ons vashou aan die belofte dat ons Hemelse Vader ons nimmereindigend lief het. Hy gee aan Sy kinders die gawes van die Heilige Gees.