’n Plaaslike kerk het my gevra om as gasspreker op te tree. My onderwerp het gehandel oor die erkenning van gebrokenheid en die genesing wat God wil skenk. Voordat ons met gebed gesluit het, het die pastoor opgestaan, diep in die oë van sy gemeentelede gekyk en gesê: “As julle pastoor het ek die voorreg om gedurende die week na julle hartverskeurende verhale oor gebrokenheid te luister. Maar gedurende ons eredienste moet ek pynlik ervaar hoedat julle julle seer wegsteek.”

Ek was hartseer oor die verborge seer wat God graag wou genees. Die skrywer van Hebreërs beskryf God se Woord as lewend en aktief. Baie het wel die “woord” as verwysend na die Bybel verstaan, maar dit is meer as dit. Jesus is die lewende Woord van God. Hy evalueer ons gedagtes en gesindhede – en het ons steeds lief.

Jesus het gesterf en daardeur vir ons vrye toegang tot God verkry. Alhoewel ons besef dat dit nie wys is om alles met almal te deel nie, weet ons dat dit God se bedoeling was dat Sy kerk ’n plek moes wees waar ons, as gebroke en vergewe volgelinge van Christus, ontboetvaardig kan lewe. Dit moet ’n plek wees waar ons “mekaar se laste” dra (Gal 6:2).

Wat steek jy vandag vir ander weg? Hoe probeer jy vir God wegkruip? God sien ons deur Jesus en Hy het ons steeds lief. Sal ons Hom toelaat?