’n Onlangse probleem het my uit die slaap gehou en snags laat rondrol. In die oggende het ek moeg en geïrriteer opgestaan en kon skaars die uitdagings van die volgende dag hanteer.

Klink dit bekend? Wat die omvang van ’n probleem ookal mag wees – ons almal gee op een of ander stadium toe aan bekommernis.

Koning Dawid was duidelik in die nood toe hy Psalm 4 gedig het. Mense was besig om sy reputasie met onware aantygings te ruïneer (vs. 2). Party het sy vermoë om te regeer bevraagteken (vs. 7). Dawid was sekerlik kwaad omdat hy so onredelik behandel is en kon nagte lank daaroor wakker gelê het. Tog lees ons hierdie merkwaardige woorde: “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak” (vs. 9).

Charles Spurgeon verduidelik vers 9 pragtig: “Deur onbesorg te gaan lê, het Dawid homself in die hande van ’n ander toevertrou, dit met oorgawe gedoen en in die afwesigheid van alle bekommernis en in volkome vertroue het hy geslaap.”

Dawid was natuurlik van meet af aan vol vertroue dat God sy gebede sou beantwoord (vs. 4) en hy was seker dat, aangesien God hom liefhet, hy liefdevol in sy behoeftes sou voorsien.

Mag God ons help om in Sy krag en teenwoordigheid te rus wanneer bekommernisse dreig. In Sy soewereine en liefdevolle arms kan ons “onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak.”