Amy Carmichael (1867–1951) het bekendheid verwerf toe sy weesmeisies in Indië gered en gehelp het om ’n nuwe lewe te begin. Te midde van hierdie uitputtende werk, was daar tog tye wat sy “oomblikke van visie” genoem het. In haar boek ‘Gold By Moonlight’ het sy vertel hoedat hulle dikwels, te midde van ’n bedrywige dag, as’t ware ’n blik op “die land wat wyd lê,” gegee was. Dit het hulle tot stilstand gebring, vasgenael op die pad.

Die profeet Jesaja het gepraat van ’n tyd wanneer God se opstandige volk tot Hom sou terugkeer. “Jou eie oë sal ’n koning sien in al sy prag en ’n land wat wyd lê” (Jes. 33:17). Om hierdie “land wat wyd lê” te sien, is dit nodig om bokant huidige omstandighede uit te styg en ’n ewige perspektief te kry. Gedurende moeilike tye stel die Here ons in staat om ons lewens vanuit Sy oogpunt te sien en moed te skep. “Die Here is ons Regter, die Here is ons Leidsman, die Here is ons Koning, Hy sal ons red” (vs. 22).

Ons kan elke dag kies om óf moedeloos ons kop te laat sak, óf ons kan opkyk na “die land wat wyd lê,” na die Here “ons magtige God” (vs. 21).

Amy Carmichael het vir meer as vyftig jaar in Indië jong vrouens in nood gehelp. Hoe het sy dit gedoen? Sy het haar oë elke dag op Jesus gevestig en haar lewe in Sy sorg geplaas. So kan ons ook.