Dit was as ’n daad van verraad beskou toe Romeinse Generaal Julius Caesar in 49 vC sy Dertiende Legioen oor die Rubiconrivier gelei het om Italië binne te val. Die impak van sy besluit was onherroeplik en het gelei tot jarelange burgeroorloë voordat Caesar die absolute leier geword het. Vandag nog is die uitdrukking “om die Rubicon te kruis” ’n metafoor wat impliseer “geen omdraai meer nie.”

Dit kan gebeur dat ons ’n Rubicon kruis deur woorde wat ons teenoor ander gebruik. Geuiterde woorde kan nie teruggetrek word nie en kan as sodanig óf hulp en vertroosting bied, óf, soos Caesar se opmars na Rome, onherroeplik skade aanrig. Jakobus het in die verband gesê: “Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand en self word dit uit die hel aan die brand gesteek” (Jak. 3:6).

As ons vermoed dat ons die Rubicon met iemand gekruis het, kan ons daardie persoon – en God – om vergifnis vra (Matt. 5:23-24; 1 Joh. 1:9). Beter nog is om daagliks in God se Gees te vertoef terwyl jy Paulus se vermaning hoor: “Wat julle sê moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig” (Kol. 4:6). Sodoende sal ons woorde nie alleen God eer nie, maar ook ander ophef en bemoedig.