Nadat ek my dogter by die skool afgesien het, kry ek die geleentheid om tydens my terugstap huis toe ’n paar bybelverse te memoriseer. Sou ek dan daardie paar minute gebruik om God se woord regtig te oordink, ondervind ek dikwels dat die bybelverse deur die loop van die dag weer by my opkom wanneer ek rustigheid en wysheid nodig het.

Toe Moses die Israeliete voorberei het om die beloofde land binne te gaan, het hy dit benadruk dat hulle aan God se voorskrifte en gebooie gehoorsaam moet bly (Deut. 6:1-2). Moses wou graag dat dit altyd voorspoedig met die volk gaan en het dit daarom beklemtoon dat hulle altyd God se gebooie sal oordink en met hulle kinders daaroor sal praat (vv. 6-7). Hy het selfs bepaal dat die gebooie aan hulle hande vasgebind word en dat daar ’n merk op hulle voorkoppe gemaak word om hulle aan God se gebooie te herinner (vs. 8). Hulle moes God se voorskrifte nooit vergeet nie en hulle moes lewe soos mense wat die Here eer en Sy seëninge geniet.

Hoe oordink jy vandag God se woord? Een voorstel is om ’n vers uit die Skrif neer te skryf en elke keer as jy jou hande was of iets drink, dit te lees en te oordink. Of, as laaste dagtaak, ’n kort gedeelte uit die Bybel te lees en te oordink. Daar is baie maniere om altyd God se Woord naby aan jou hart te hou.