Tydens ’n Sondagskoolles oor die wonder van God se ewige natuur, word die vraag dikwels gevra: “As God geen begin of einde het nie en nog altyd daar was, wat het Hy gedoen voordat Hy ons geskep het? Hoe het Hy Sy tyd deurgebring?” My antwoord was altyd dat dit ietwat van ’n misterie is. Maar toe leer ek onlangs dat die Bybel self hierdie vraag beantwoord.

Ons lees in Johannes 17 dat toe Jesus tot Sy vader gebid het, Hy gesê het: “U [het] My al voor die skepping van die wêreld liefgehad” (vs. 24). Dit is soos Jesus God aan ons bekend stel. Nog voordat Hy die aarde geskep het, was God ’n Vader wat Sy Seun deur die Gees liefgehad het. Toe Jesus gedoop is, het God Sy Gees in die vorm van ’n duif gestuur en gesê: “Dit is My geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My” (Matt. 3:17). Die mees wesenlike aspek van God se identiteit is dus hierdie spontane lewegewende liefde.

Wat ’n wonderlike en aanmoedigende waarheid omtrent ons God is dit nie! Die wedersydse spontane liefde soos geopenbaar deur die Heilige Drie eenheid – Vader, Seun en Heilige Gees – is die sleutel tot die begrip van God se natuur. So, wat het God gedoen voor die begin van tyd? Hy het Sy Seun deur bemiddeling van die Heilige Gees liefgehad. God is liefde (1 Joh. 4:8), en hierdie skets help ons om te verstaan wat dit beteken.