Toe my sjokoladebruin Labradorretriever drie maande oud was, het ek hom veearts toe geneem vir ’n algemene ondersoek en sy inspuitings. Terwyl ons veearts hom versigtig ondersoek het, het sy ’n klein wit kolletjie in sy pels op sy agterlinkerpoot opgemerk. Sy het geglimlag en vir hom gesê: “Dis waar God jou vasgehou het toe Hy jou in die sjokolade gedoop het!”

Ek kon nie help om te lag nie. Tog het sy onwetend ’n baie betekenisvolle feit gestel oor die diep en persoonlike belang wat God by Sy skepping het.

Jesus vertel ons in Matteus 10:30: “Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.” God is so groot dat Hy in staat is om oneindig belang te stel in die mees intieme besonderhede van ons lewens. Niks is so klein dat Hy dit nie opmerk nie, en geen saak is so gering dat ons dit nie na Hom toe kan neem nie. Dít is hoe veel Hy werklik omgee.

God het ons nie net gemaak nie; Hy onderhou ons en dra ons elke oomblik van ons lewe. Daar word soms gesê “die duiwel is in die details.” Dit is egter veel beter om te verstaan dat God daarin is, dat Hy selfs wag hou oor die dinge wat ons nie eers opmerk nie. Dit is vertroostend om te weet dat ons alwyse en versorgende hemelse Vader ons – saam met die ganse skepping – in Sy sterk en liefdevolle hande vashou.