Grace is ’n baie besonderse dame. As ek haar met een woord moet beskryf, sal dit met die woord vrede wees. Vandat ek haar ses maande gelede ontmoet het, het die stil en vreedsame uitdrukking op haar gesig selde verander, selfs al is haar man met ’n rare siekte gediagnoseer en toe gehospitaliseer.

Toe ek Grace uitvra oor wat die geheim van haar vrede is, het sy geantwoord: “Dit is nie ’n geheim nie; dit is ’n persoon. Dit is Jesus in my. Daar is geen ander manier waarop ek die stilte wat ek te midde van die storm ervaar, kan beskryf nie.”

Die geheim van vrede is toe te skryf aan ons verhouding met Jesus Christus. Hý is ons vrede. Wanneer Jesus ons Verlosser en Here is, en ons al hoe meer na Sy beeld verander word, raak vrede ’n realiteit. Ons mag met dinge soos siekte, finansiële probleme of gevaar te kampe hê, maar vrede verseker ons dat God ons lewens in Sy hand hou, en dat ons kan vertrou dat alles ten goede sal meewerk.

Het ons al hierdie vrede wat ver bo ons rede of begrip is, ervaar? Is ons in ons binneste daarvan oortuig dat God in beheer is? My gebed vir almal van ons eggo die woorde van die apostel Paulus: “Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee!” (2 Tess. 3:16). In alle opsigte en omstandighede, en te alle tye!