Die agtjarige Carmine McDaniel wou op ’n besonder warm dag seker maak dat hul buurt se posman koel en gehidreer bly. Hy het ’n koelsak vol waterbottels en ’n sportdrankie op hul voorstoep neergesit. Die posman se reaksie is op die gesin se sekuriteitskamera vasgelê: “Genade! Water én Powerade! Dankie, Here! Dankie, julle!”

“Carmine het gevoel dis sy ‘plig’ om die posman van ’n koel drankie te voorsien, selfs al is ons nie tuis nie,” het sy ma opgemerk.

Die verhaal raak ons harte, maar Paulus herinner ons ook dat daar Een is wat in al ons behoeftes sal voorsien. Al het Paulus in die tronk gesit en was hy onseker oor sy toekoms, kon hy sy vreugde teenoor die Christene in Filippi betuig omdat God deur hulle finansiële gawe aan hom in al sy behoeftes voorsien het. Die kerk in Filippi was nie ryk nie, maar hulle was vrygewig en het in hul armoede tog aan Paulus en ander gegee (2 Kor. 8:1-4).

Nes die Filippensers in Paulus se behoeftes voorsien het, so sou God ook in húlle behoeftes voorsien “volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus” (Fil. 4:19).

God stuur dikwels vertikale hulp deur horisontale middele. Anders gestel: Hy stuur deur ander die hulp wat ons nodig het. Wanneer ons op Hom vertrou vir wat ons benodig, leer ons, soos Paulus, die geheim van ware tevredenheid (vv. 12-13).