Die mens is geneig om moeite te doen om inligting te verkry wat sy opinies staaf. Wanneer ons baie sterk voel oor ons eie saak, vermy ons enige teenkanting wat ons standpunte sal uitdaag.

Dít is presies wat gebeur het tydens koning Agab se heerskappy oor Israel. Toe hy en Josafat – die koning van Juda – samesprekings gevoer het of hulle teen Ramot in Gilead sou optrek, het Agab 400 profete byeengeroep om hulle te help besluit. Dit was manne wat hy self in daardie posisie aangestel het en wat hom sou vertel wat hy graag wou hoor. Hulle het hom aangemoedig om te gaan, want “God gee die stad aan die koning oor” (2 Kron. 18:5).

Josafat wou weet of daar nie nóg ’n profeet van die Here was deur wie hulle Hom kon raadpleeg nie. Agab was traag, want Miga, God se profeet, het “nooit iets goeds nie, net altyd die slegste” vir hom voorspel (vs. 7). Miga het inderdaad nederlaag aangedui en dat die mense op die berge verstrooi sou word (vs. 16).

Ek sien aan die hand van hierdie verhaal hoedat ek geneig is om wyse raad te vermy as dit iets is wat ek nie wil hoor nie. Agab het na sy jabroers – 400 profete – geluister, en ’n ramp het gevolg (vs. 34). Mag ons gewillig wees om in die Bybel na die stem van waarheid te soek en daarna te luister – selfs wanneer dit ons persoonlike voorkeure teenstaan.