Ons het om die tafel gesit en elke persoon het ’n tandestokkie in die skyf skuimplastiek voor ons gedruk. Na aandete in die weke voor Paastyd het ons ’n doringkroon geskep – elke tandestokkie het iets verteenwoordig wat ons gedoen het waaroor ons jammer was en waarvoor Christus die boete moes betaal. Dit het aand na aand aan ons tuisgebring, hoe skuldig ons is en hoe nodig ons ’n Verlosser het. En hoe Jesus ons vrygemaak het, deur Sy sterwe aan die kruis.

Die doringkroon wat Jesus gedwing was om te dra, was deel van ’n wrede spel van die Romeinse soldate voor Sy kruisiging. Hulle het ook ’n koninklike kleed oor Hom gehang en ’n stok as septer gegee, wat hulle toe gebruik het om Hom te slaan. Hulle het Hom getart en Hom “koning van die Jode” genoem (Matteus 27:29) en nie besef dat hulle dade duisende jare later onthou sou word nie. Hierdie was nie ’n gewone koning nie. Hy was die Koning van Konings wie se dood, gevolg deur Sy opstanding, ons die ewige lewe besorg het.

Op Paasoggend het ons die gawe van vergiffenis en nuwe lewe gevier deur die tandestokkies met blomme te vervang. Watter vreugde het ons nie ervaar nie, om te weet God het ons sonde uitgewis en ons vir ewig vryheid en lewe in Hom gegee !