Baie jare terug in die fisika-klas het die onderwyser ons gevra – sonder om te kyk – watter kleur die agterste muur van die klaskamer was. Niemand kon antwoord nie, want ons het nie opgelet nie.
Partykeer mis ons of sien nie “goed” van die lewe raak nie, bloot oor ons nie alles kan inneem nie. Soms sien ons goed nie raak wat maar al die tyd daar was nie.
Dit was met my die geval toe ek onlangs weer die verhaal lees van Jesus wat Sy disippels se voete was. Dit is ’n bekende verhaal, en dit word gewoonlik gedurende Pase gelees. Dat ons Redder en Koning sou buk om die voete van Sy disippels te was, verstom ons. In Jesus se dae is hierdie taak selfs die Joodse diensknegte gespaar, omdat dit benede hulle was. Maar wat ek toe raakgesien het, was dat Jesus, wat beide man en God was, Judas se voete gewas het. Hoewel Hy geweet het Judas Hom gaan verraai, het Hy Homself steeds verneder en Judas se voete gewas.
Liefde geskink in ’n skottel – liefde wat Hy selfs met die een wat Hom sou verraai, gedeel het. Terwyl ons die gebeure bepeins van die week wat lei tot die viering van Jesus se opstanding, mag ons ook die geskenk van nederigheid ontvang, sodat ons Jesus se liefde aan vriend en vyand kan uitdeel.