In die lied “Kyk na Hom”, beskryf die Mexikaanse komponis, Rubén Sotelo, Jesus aan die kruis. Hy nooi ons om te kyk en stil te wees, omdat daar eintlik niks te sê is oor Sy soort liefde aan die kruis nie. Deur geloof kan ons die toneel voorstel. Ons kan ons die kruis en die bloed, die spykers en die pyn voorstel.

Toe Jesus Sy laaste asem uitblaas, het dié “… wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk … verslae huis toe gegaan” (Lukas 23:48). Ander “… het op ’n afstand bly staan” (vs. 49). Hulle het gekyk en was stil. Net een het gesê “Hierdie man was werklik onskuldig” (vs. 47).

Liedere en gedigte is al geskryf om hierdie groot liefde te beskryf. Jeremia het oor Jerusalem se pyn, na sy verwoesting geskryf. “Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan?” (Klaagliedere 1:12). Hy het gevra dat die mense kyk en sien; hy het gedink daar was nie erger lyding as Jerusalem s’n nie. Nogtans, was daar enige lyding soos Jesus s’n?

Almal van ons gaan verby die pad van die kruis. Sal ons kyk en Sy liefde sien? Hierdie Paasfees, wanneer woorde en gedigte onvoldoende is om ons dankbaarheid te betoon en God se liefde te beskryf, neem ’n oomblik om Jesus se dood te bepeins; en in die stilte van ons harte, laat ons aan Hom ons diepste eerbied fluister.