Verbeel jouself skouer aan skouer saam met ’n skare by ’n grondpad. Die vrou agter jou staan op haar tone om te sien wie aankom. In die verte sien jy vlugtig ’n man op ’n donkie. Soos Hy naderkom gooi die mense hulle klede op die pad. Skielik hoor jy ’n boom kraak agter jou. ’n Man is besig om palmtakke af te sny en die mense sprei dit oop voor die donkie.

Jesus se volgelinge het Hom vurig ondersteun toe Hy Jerusalem binnegegaan het, ’n paar dae voor Sy kruisiging. Die skare het gejuig en God geprys “oor al die wonderwerke wat hulle gesien het” (Lukas 19:37). Jesus se aanhangers het hom omsingel terwyl hulle uitroep “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom!” (vs. 38). Hulle entoesiastiese eer het die mense van Jerusalem beïnvloed. Toe Jesus eindelik opdaag “het die hele stad in beroering gekom en gevra: ‘Wie is hierdie man?’” (Matteus 21:10).

Vandag is mense steeds nuuskierig oor Jesus. Hoewel ons nie Sy pad kan uitlê met palmtakke of Hom persoonlik prys nie, kan ons Hom steeds eer. Ons kan Sy besonderse werke bespreek, mense in nood bystaan, geduldig beledigigngs verduur en mekaar innig liefhê. Dan moet ons gereed wees om die omstanders te antwoord wat vra “Wie is Jesus?”