Vandat sy verskeie jare terug kanker opgedoen het, kan Ruth skaars eet, drink of sluk. Sy het ook baie van haar fisieke kragte verloor en talryke operasies en behandeling het haar ’n skaduwee van haar ou self gelaat.
Nogtans kan Ruth God steeds loof; haar geloof bly sterk en haar vreugde is aansteeklik. Sy vertrou daagliks op God, en bly hoop dat sy eendag volkome sal herstel. Sy bid vir genesing en is vol vertroue dat God sal antwoord – een of ander tyd. Wat ’n ontsagwekkende geloof!
Ruth verduidelik dat die seker geloof dat God nie net Sy beloftes op Sy tyd sal nakom nie, maar haar ook sal dra tot dan, is wat haar geloof sterk hou. Dit was dieselfde hoop wat God se volk gehad het, toe hulle vir Hom gewag het om Sy planne te voltooi (Jesaja 25:1), hulle te verlos van die vyand (vs. 2), hulle trane af te droog, hulle smaad te verwyder en “die dood vir ewig vernietig” (vs. 8).
Intussen gee God sy volk ’n toevlug en skuilplek (vs. 4) terwyl hulle wag. Hy vertroos hulle in beproewing, gee hulle krag om uit te hou en verseker hulle dat Hy by hulle is.
Dit is die dubbele belofte wat ons het – die hoop van verlossing eendag, plus die voorsiening van Sy troos, sterkte en beskutting deur ons lewe.