Terwyl ek vir ’n bevogtiger gesoek het, was daar ’n ouer dame wat op en af in die gang stap. Ek het gewonder of sy ook een soek, en het opsy gestaan, dat sy kon verbygaan. Kort daarna het ons oor ’n virus in ons area gesels, wat haar ’n nare hoes en kopseer besorg het.

Sy het uitgebars in ’n tirade, oor waar die virus vandaan kom. Ek het geluister, onseker oor wat ek moet doen. Sy het die winkel verlaat, steeds kwaad en gefrustreerd . Hoewel sy haar frustrasie kon uitdruk, kon ek niks doen om die pyn te verlig nie.

Dawid, Israel se tweede koning, het psalms geskryf om sy woede en frustrasie uit te druk. Hy het geweet dat God nie net luister nie, maar ook iets aan sy pyn kon doen. In Psalm 61 skryf hy, “Ver uit die vreemde uit, in wanhoop, roep ek na U. Bring my op ’n rots waar ek veilig sal wees” (Psalm 61:3). God was sy “toevlug” (vs. 4) – die “rots” waarheen Dawid vlug.

Wanneer ons in pyn verkeer, of iemand teëkom met pyn, is Dawid se voorbeeld ’n goeie een om te volg. Ons kan na “’n rots waar ek veilig sal wees” gaan, of ons kan iemand daarheen lei. Ek wens ek het God genoem aan die vrou in die winkel. Hoewel God dalk nie ons pyn wegneem nie, kan ons in die vrede wat Hy voorsien leef, en verseker weet, Hy hoor ons hulpgeroep.