My tweede kind was gretig om in ’n “groot” bed by haar suster te slaap. Elke aand het ek Britta gaan toemaak met streng instruksies om in die bed te bly, anders sou ek haar terugsit in die bababed. Elke aand het ek haar in die gang gekry en my ontmoedigde liefling na die bababed teruggeneem. Jare later moes ek verneem dat die saggeaarde ouer suster nie graag die kamer wou deel nie en Britta gesê het, sy hoor my roep. Britta het na haar geluister, en sodoende terug in die bababed beland.

Om na die verkeerde stem te luister kan vir ons almal gevolge hê. Toe God ’n man na Bet-El gestuur het om namens Hom te praat, het Hy hom uitdruklike opdrag gegee om nie daar te eet of drink nie, en ook nie op dieselfde roete terug te keer nie (1 Konings 13:9). Toe Koning Jerobeam hom nooi vir ’n maaltyd, het hy dit van die hand gewys. ’n Ouer profeet het hom genooi vir ete en hy weier aanvanklik. Hy gee egter toe, toe die ouer man hom mislei deur te sê ’n engel het die instruksie gegee. Net soos ek wou hê Britta moet die “groot” bed geniet, dink ek God was teleurgesteld dat die profeet nie na Hom geluister het nie.

Ons kan God volkome vertrou. Sy woorde is ons lewenspad; ons is wys om te luister en gehoorsaam.