Daar is seker nie een kind wat van spinnekoppe hou nie. Veral nie in hulle kamers met slaaptyd nie! My dogter het een baie naby aan haar bed opgemerk toe sy een aand regmaak om te gaan slaap. Sy het hard gegil, maar nieteenstaande my vasberadenheid kon ek hom nêrens opspoor nie. Ek het haar probeer wysmaak dat die spinnekop haar nie sou byt nie, maar tevergeefs. Dit was eers nadat ek haar belowe het dat ek langs haar bed sal wag hou, dat sy toegegee het om in die bed te klim.

In die bed het ek haar hand vasgehou en vir haar gesê dat ek haar baie liefhet en dat ek by haar is. Ook het ek gesê: “God het jou nog baie meer lief as wat ek en Mamma jou het, en Hy is altyd naby jou en jy kan altyd tot Hom bid as jy bang is”. Dit het haar gerusgestel en sy het spoedig rustig geslaap.

Die Skrif verseker ons herhaaldelik dat God altyd naby is (Ps. 145:18; Rom. 8:38-39; Jak. 4:7-8), en tog sukkel ons soms om dit te glo. Dit is seker hoekom Paulus vir die gelowiges in Efese vir sterkte en krag gebid het om die waarheid te begryp. Hy het geweet dat as ons bang is ons van God se nabyheid kan vergeet. Maar net soos wat ek my dogter se hand daardie aand liefderyk vasgehou het, totdat sy aan die slaap geraak het, net so naby is ons Hemelse Vader altyd aan ons. So naby soos ’n gebed.