Tydens ’n vlug in onstuimige weer sal die lugwaardin passasiers se aandag daarop vestig dat die loods die teken vir sitplekgordels aangeskakel het en vra dan dat almal hul sitplekke moet inneem en hul sitplekgordels moet vasmaak ten einde onnodige ongerief wat mag voorkom, te vermy.

In die meeste gevalle sal die lewe ons nie waarsku as daar ontwrigtende omstandighede na ons op pad is nie. Maar ons liefdevolle Vader weet en Hy is besorg oor ons naderende worstelinge. Daarom nooi Hy ons uit om al ons probleme, teleurstellings en vrese na Hom te bring. Die Skrif sê: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb 4: 15-16).

Om in tye van onstuimigheid in gebed na die Vader te gaan, is voorwaar die beste uitweg. Die sinsnede “en so op die regte tyd gered kan word” beteken dat ons gedurende onstuimige tye in Sy teenwoordigheid kan vasgespe, want ons bring ons bekommernisse na die Een wat almagtig is. As die lewe dus voel of dit te veel raak, kan ons bid. Hy kan en sal ons deur die onstuimigheid help.