Nadat ek as jongman my Kollege-opleiding voltooi het, het ek maar ’n karige salaris verdien. Geld was skaars en ek het soms nie eers geld vir ’n volgende maaltyd gehad nie. Maar ek het geleer om op God te vertrou vir my daaglikse voorsiening.
Dit het my aan die profeet Elia se ondervinding herinner. Hy het tydens sy profetiese bediening geleer om God vir sy daaglikse behoeftes te vertrou. Kort nadat Elia Israel se straf in die vorm van ’n droogte aangekondig het, het God hom na die verlate Kritspruit gestuur waar kraaie vir hom sou sorg, terwyl hy water uit die spruit kon drink (1 Kon. 17:1-4).
Die spruit het tydens die droogte opgedroog en God het Elia aangesê om na Sarfat te gaan, waar ’n arm weduwee vir hom sou sorg (vs. 9). Maar Sarfat se inwoners was vyandig teenoor die Israeliete. Sou daar dus iemand wees wat vir Elia skuiling kon bied? Sou ’n arm weduwee genoeg kos hê om met hom te deel?
Meeste van ons sou seker verkies dat God in oorvloed moet voorsien lank voordat ons lewensmiddele opraak in plaas van een dag op ’n slag. Maar ons liefdevolle Vader fluister “vertrou My.” Net soos wat Hy kraaie en ’n arm weduwee gebruik het om vir Elia te sorg, is niks vir Hom onmoontlik nie. Ons kan op Sy liefde en krag staatmaak om in ons daaglikse behoeftes te voorsien.